Met talle verwikkelinge in die suide van Bloemfontein vandag (Vrydag), het kwessies rakende die grondbesetters in die Lourierpark-area hoofnuus gebly. Hier is ‘n opsomming van die verwikkelinge
Die Rooimiere het ongeveer 07:00 vanoggend in die area inbeweeg, om soos gister, kragtens ‘n bevel van die hooggeregshof, onwettige woonstrukture op die munisipale grondgebied by Lourierpark af te breek. Reaksiemagte van die Suid-Afrikaanse Polisiediens, wat ook die Eenheid vir Openbare Orde insluit, is in groot getalle in die Lourierpark-omgewing in Bloemfontein teenwoordig. Vroeër vandag is taakspanne vanuit die lug deur ‘n helikopter bygestaan, om brandpunte van moontlike konfliksituasies uit te wys.
Alle toegange na die grondgebied is reeds vroegoggend deur owerhede gesluit, en daar was ‘n beroep gedoen op inwoners van Lourierpark, Pellissier en Bloemdal gedoen om – tot verdere kennisgewing – binne te bly.
Teen laatmiddag, soos die Rooimiere fluks gewerskaf het om informele wooneenhede langs die Jagersfonteinpad plat te slaan, was nuwe grondbesetters druk aan die werk om nog blyplekke op te rig. Rosestad-nuus het ook berig daar word bespiegel dat die balju opdrag aan die Rooimiere gegee het om die uitsettingsbevel van die hoggeregshof deur te voer, en nie die Mangaung-metro nie. Dit is nie bekend wie vir die Rooimiere se rekening van miljoene rand verantwoordelik is nie, en daar is aan Rosestad-nuus gesê die span se dienste is vir drie dae bekom.
Om die gemeenskap in te lig oor die party se standpunt oor grondbesetting, asook volgende stappe, is glo die redes waarom die ANC ‘n vergadering in die Lourierpark-saal hou. Sekere inwoners van die buurt was uit die veld geslaan toe hulle eers teen laatmiddag verneem het dat so ‘n vergadering vir 17:00 beplan is.
Lede van die ANC word in die hoofteks van die uitnodiging na die vergardering genooi. Afsonderlik hiervan, is daar ‘n baie duidelike naskrif – heel onderaan – waarin dit gestel word dat ook inwoners van Lourierpark uitgenooi word. ‘n Gemeenskapspolisiëringskenner sê die blote feit dat die ANC die vergadering in Lourierpark hou, behoort die gevaarligte reeds te laat flikker.
Hierbenewens reken hy dat die kort kennisgewingtydperk nie toevallig is nie. Hy bestembel hierdie stap deur die ANC as uiters onverantwoordelik, aangesien aanhitsing tot geweld binne ‘n oogwink hieruit voort kan spruit.