Die mag van gemeenskapsbetrokkenheid by misdaadbekamping het gister weer in die kollig beland. Een van ‘n groep gewapende rowers is vasgetrek nadat hy en sy vier makkers Woensdagmiddag ‘n drankwinkel in Corneliasingel in Bloemfontein beroof het. Lede van die publiek het ‘n beskrywing van die voertuig deurgegee wat versprei is op sosialemedia-groepe wat misdaadbekamping doen. ‘n Verkeersbeampte, wat net as Veronica bekend is, het die voertuig agterna gesit. Drie van die verdagtes is buite Bloemfontein afgelaai en die ander twee het hierna Heidedal toe gery. Bloemsec se Ricus Slabbert, Dimitri van AfriForum in Pellissier en konstabel Letsoewayo van die Suid-Afrikaanse Polisiediens het reageer. Daar was ‘n heen-en-weer skietery, maar niemand is beseer nie. Een verdagte is in Heidedal in hegtenis geneem terwyl die ander een per voet op die vlug geslaan het. Al vyf verdagtes is vermoedelik van Lesotho.

error: Inhoud is beskerm !!
×

Rosestad, Waar jy wil wees, trots in Afrikaans

×