Die ikoniese T-34/85-tenk wat op die hoek van Nelson Mandela-rylaan en Furstenburgweg in Bloemfontein gestaan het, is ná meer as ’n dekade verwyder.
Die tenk het die ingang na ASB Bloemfontein gemerk en die pad na Tempe Militêre Basis en die SA Pantsermuseum aangedui.
Volgens Wikipedia is die T-34 ‘n Sowjet-mediumtenk uit die Tweede Wêreldoorlog. Toe dit bekendgestel is, was die tenkkanon kragtiger as baie van sy tydgenote.
Volgens ’n plasing op die museum se Facebook-blad is die tenk nou na die SA Pantsermuseum vervoer as deel van ’n restourasieprojek.
Die museum werk aan die herstel van ’n ander T-34/85 en benodig onderdele; dié tenk sal dus ondersoek word vir bruikbare komponente.
Vir eers sal die platform leeg bly.
Die museum sal die publiek op hoogte hou van die tenk se moontlike terugkeer of vervanging.
Die museum bedank almal vir hul volgehoue belangstelling in Suid-Afrika se militêre erfenis.
In die plasing se kommentaar sê Manus Myburgh, “die eerste tenk wat deur ‘n lid van die SAW uitgehaal is in Angola, was ‘n T-34 by Norton de Matos op 5 Oktober 1975. Dit was voor Op Savannah. Vanjaar 50 jaar gelede. Die kanonier was Kpl Skip Scheepers en hy was in ‘n Panard 90 pantserkar van die Unita beweging”.