Bloemfontein inwoners in verskeie dele van die stad, gaan vir sowat 36 uur nie water hê nie. Die watersuiweringsaanleg by Maselspoort buite Bloemfontein is nie in bedryf nie weens ‘n uitgebreide kragonderbreking. Netwerk 24 berig amptenare van die Mangaung Metro het gesê dit is deel van normale bedryfsprosesse en solank die noorde van Bloemfontein water het, is daar nie ‘n probleem nie. Die Vaal-Sentrale Waterraad, voorheen Bloemwater, het ook laatweet dat watertoevoer vir instandhoudingsdoeleindes afgesny sal word wat die Brandkop-reservoir in Pellisier in die suide vir 36 uur sal raak. Inwoners word gevra om water spaarsaam te gebruik. Maruping Rapudungoane, uitvoerende bedryfshoof van die Vaal-Sentrale Waterraad, het gesê daar is reeds Dinsdagaand met die werk begin en dit sal tot Vrydagoggend om vyfuur duur.