Die ouers van ‘n leerling wat glo deur ‘n mede leerling seksueel aangerand is by ‘n Bloemfonteinse Hoërskool, eis meer as R3 miljoen van die skool, sy beheerliggaam, die LUR vir onderwys en die provinsiale hoof van onderwys. Luidens die eis in die Vrystaatse hooggeregshof is die meisie verlede jaar deur ‘n seun van dieselfde hoërskool in die suidelike voorstede aangerand waarna hy geskors is, berig Netwerk 24. Hy is weer toegelaat tot die skool en het haar weer geteister en geboelie. ‘n Klag van seksuele aanranding is verlede jaar by die polisie ingesien en die ouers het ‘n beskermingsbevel bekom. Die seun is ‘n finale waarskuwing gegee. Hy het glo na bewering voortgegaan om die meisie te teister en te intimideer. Die meisie, wat intussen die skool verlaat het, kry nou behandeling vir ernstige sielkundige probleme. Die verweerdes is 20 dae gegee om aan te dui of hulle die saak gaan teenstaan.