Die 43-jarige Thomas Nel van Bloemfontein word weer aangekla van moord op sy vrou, Jackie, ses-jaar gelede nadat ‘n forensiese verslag oor ondermeer haar maaginhoud nou ontvang is. Nel het vroeër tydens ‘n geregtelike doodsondersoek in die landdroshof in Thaba Nchu getuig hy het op 9 Desember 2017 wakker geword en besef sy vrou haal nie meer asem nie. ‘n Moordsaak is later geopen. Mojalefa Senokoatsane, woordvoerder van die direkteur van openbare vervolgings, of DOV, het Maandag aan Netwerk 24 gesê die saak sal na Nel se volgende verskyning op 16 Januarie na die hooggeregshof in Bloemfontein oorgeplaas word. Jackie Nel se familie het ook ‘n privaatspeurder gekry om te help met die ondersoek omdat hulle geglo het die polisie sloer met die saak. Dr John Mohai, ‘n pataloog van Gauteng, het tydens die geregtelike doodsondersoek getuig die oorledene het ernstige beserings aan haar gesig en nek gehad wat tot haar dood kon gelei het. Haar beserings dui ook daarop dat sy met ‘n kussing versmoor is.