Bloemfonteiners kan gerus ‘n glasie lig op ‘n oudleerling van die Hoërskool Sentraal, wat pas as die sewende beste sommelier ter wêreld aangewys is.
Die 36-jarige Jo Wessels het die naweek met trots en dankbaarheid verneem dat hy hierdie posisie bekleë, na afloop van die Sommelier van die Wêreld-wynkompetisie wat in die Franse hoofstad Parys gehou is.
Wessels, wat in die studentedorp Heidelberg in Duitsland werk, het gesê dié internasionale kompetisie is vir sommeliers soos die Olimpiese Spele vir atlete is.
Hy het in 2005 matriek geskryf en het hierna by verskeie wynplase en wynverkopers in en om Stellenbosch in die Wes-Kaap gewerk.
Wessels het later internasionale ervaring as sommelier op luukse skepe en ook in Michelin-ster-restaurante in Duitsland opgedoen.
Altesaam 3000 sommeliers van oor die wêreld het aan vanjaar se kompetisie deelgeneem.