Polisiebeamptes wat oor die naweek motoriste op die N1-snelweg in Fourways aangerand het, is deel van adjunk-president Paul Mashatile se presidensiële beskermingseenheid. Netwerk 24 berig dit is vanoggend deur Mashatile se kantoor bevestig. Die nasionale polisiewoordvoerder, kolonel Athlenda Mathe, het intussen bevestig dat geen van die slagoffers tans gehospitaliseer is nie. Die video van die aanval wat Maandag wyd op Sosiale media versprei is, wys hoe voertuie van die bloulig-eenheid op die snelweg stop en mense uit ‘n voertuig pluk en begin skop en trap. Mashatile het die onnodige gebruik van geweld veroordeel, veral teen ongewapende burgerlikes. Mashatile het die publiek gevra om geduldig te wees met die polisie sodat hulle die ondersoek kan afhandel.
