Die Springbokke se eerstekeuse-haker, Bongi Mbonambi, wat die afgelope paar dae moes wag om te hoor of hy deur Wêreldrugby aangekla gaan word vir ‘n beweerde rassistiese uitlating, kan nou 100% op die finaal van die rugby Wêreldbeker Saterdagaand fokus. Hy gaan volgens Maroela Media van geen oortreding aangekla word nie. Wêreldrugby het vanoggend bevestig daar is onvoldoende bewyse teen die Springbok en dat die saak as afgehandel beskou word. Wêreldrugby het ‘n amptelike ondersoek begin na die halfeindwedstryd tussen Engeland en die Springbokke nadat die Engelse flank Tom Curry beweer het Mbonambi het hom ‘n onwelvoeglike woord oor sy velkleur toegesnou. Na oorweging van onder andere beeld-en audiomateriaal en bewyse van albei spanne, is besluit om die ondersoek te laat vaar.