Die Springbok-skrumskakel Cobus Reinach word omring deur spanmaats, sy gesin in die span se hotel en Franse polisiebeamptes na ‘n doodsdreigement Donderdagmiddag bekend geword het. Die doodsdreigement wat deur SA se direkteur van Rugby, Rassie Erasmus op X geplaas is, is waarskynlik teen Reinach gedoen omdat die Springbokke die Franse verlede naweek net-net in die kwarteind-wedstryd gewen het. Reinach speel ook klubrugby in Montpellier. Die Bok-bestuur het nadat die boodskap bekend geword het, ‘n saak by die polisie geopen. Die hulpafrigter van die Springbokke, Mzwandile Stick, het vandag gesê Reinach is geestelik reg ingestel vir Saterdag se Wêreldbeker-halfeindwedstryd teen Engeland. Stick het gesê die sekuriteit in die span se hotel is op ‘n ander vlak en ses Franse polisiebeamptes pas die Springbokke 24 uur per dag op. Daar is nie plek vir boewe in die spel nie, het Stick gesê.