Bomaanvalle op skepe in internasionale waters van die Rooisee, wek kommer dat die Israel/Hamas-konflik verder kan uitkring.
Die Amerikaanse verdedigingsdepartement het gesê drie kommersiële skepe is deur Jemen se Iran-geallieerde Houthi-beweging, in internasionale waters van die Rooisee-aangeval. ‘n Houthi-woordvoerder voer aan sy vloot het gister twee Israeliese skepe in die Rooisee aangeval.
‘n Israeliese militêre woordvoerder het egter gesê die twee skepe waarna verwys word, het geen verbintenis met Israel nie.
Ongekende spanning bou op tussen Israeliese artillerie-magte en Hamas-vegters, in die Gasastrook. Reuters meld Israel se reuse beplande aanval in die suide, het reeds begin, met ‘n Israeliese bomaanval waarin dosyne Palestyne dood en beseer is.
Owerhede reken daar is nagenoeg 2 miljoen burgerlikes in die suide van die strook. Meeste is vlugtelinge van ander dele, wat hier skuiling kom soek het.
Indien Israel sy plane om die suide te verwoes deurvoer, is daar volgens ontleders, vir hierdie mense geen toevlugsoord nie.