Build One South Africa, of BOSA, die UDM en die metaalwerkersvakbond, NUMSA, het gister hofstukke ingedien om die Suid-Afrikaanse Energiereguleerder se goedkeuring van Eskom se elektrisiteitstariefverhoging tersyde te stel.
NERSA het Eskom vroeër in Januarie die groenlig gegee om elektrisiteitspryse met meer as 18% vanaf 1 April te verhoog.
President Cyril Ramaphosa het Sondag buite Bloemfontein gesê hy het die direksie van Eskom versoek om die goedgekeurde verhoging vir eers op te skort.
Die direksie oorweeg skynbaar sy versoek, aangesien dit nie regverdig is om kragpryse te verhoog terwyl daar beurtkrag is nie.
Dit was deel van Ramaphosa se toespraak by die Vrystaatse ANC se 9de provinsiale konferensie.