Die DBV in Bloemfontein het die vonnisoplegging van ‘n vrou wat aan dieremishandeling skuldig bevind is, verwelkom. IOL berig dit, nadat Christel van Rhyn in die Brandfort-landdroshof skuldig bevind is. Die DBV het gesê ‘n saak is teen Van Rhyn geopen nadat ses perde in ‘n erg uitgeteerde toestand op haar eiendom in Brandfort gevind is.
Die hoofinspekteur van die DBV, Reinet Meyer, sê die perde wat op die eiendom gevind is, het skaars spiermassa op hul lywe gehad. Die heupe, rugmurg en ribbes het almal duidelik gewys. Van Rhyn is met R3 000 beboet of by wanbetaling, drie maande direkte gevangenisstraf wat vir drie jaar opgeskort is op voorwaarde dat die beskuldigde nie aan dieremishandeling skuldig bevind word nie.