‘n Brand die afgelope naweek by die Noordelike stortingsterrein kan honderde duisende rand se skade beloop nadat ‘n geveg tussen formele herwinnaars en informele herwinnaars uitgebreek het. Die polisie was glo op die spoor van koperkabeldiewe wat na die stortingsterrein gevlug het toe van die informele herwinnaars die stoor met voertuie van die Mangaung Metro aan die brand gesteek het. Die DA-raadslid, Selme Pretorius het aan Netwerk 24 gesê sy het die metro oor die aangeleentheid ingelig. Mense in die omgewing moes hul wonings weens al die rook ontruim. Inwoners naby die terrein sukkel steeds met die reuk van rook in hulle huise. Pretorius het gesê dis nie die eerste keer dat brandstigting op die noordelike stortingsterrein plaasvind nie. Daar is glo planne om die stortingsterrein te sluit omdat dit aan die einde van sy lewensduur gekom het. Twee van die metro se geel-vloot diensvoertuie het uitgebrand.
