Twee broers wat verlede week verskeie kere by die gevaarlike suidelike stortingsterrein in Bloemfontein geskiet is, sterk aan nadat hulle in twee hospitale in die stad opgeneem is. Die 19-jarige Gaopalelue Seome, ‘n student aan die Motheo-kollege en sy broer, die 22-jarige Ramogetswe Seome, het aan Netwerk 24 gesê hulle wou vullis stort wat nie deur die metro verwyder is nie, toe hulle deur vier mans oorval en verskeie kere op hulle geskiet is. Die broers se pa, Lebogang Seome, het na hulle gaan soek en sy motor gekry waar dit in die rigting van die N1 gestaan het. Die broers is van hul selfone en kontant geroof en is by die kar met hul skietwonde gevind. Lt. Kol Thabo Covane, woordvoerder van die polisie, het gesê twee klagte van poging tot moord word ondersoek. Die DA-raadslid, Dave McKay, het die voorval as skokkend beskryf nadat die party reeds in die verlede ‘n beswaarskrif oor die stortingsterrein by die metro ingehandig het.
