Build One South Africa, of Bosa, het ‘n ultimatum aan die presidensie gestel om die president se beëdigde verklaring oor die Wladimir Poetin inhegtenisnemingsbevel-aangeleentheid bekend te maak. Dit hou verband met die DA se hooggeregshofsaak waarin die party duidelikheid soek oor die prosedure wat die regering moet volg om so ‘n lasbrief van die Internasionale Strafhof uit te voer. Bosa sê beëdigde verklarings wat by die howe ingedien word, is gewoonlik openbare dokumente. President Cyril Ramaphosa se reaksie op die DA se hofsaak word egter geheim gehou. Die ANC het intussen gesê dat Suid-Afrika ʼn lid van die Internasionale Strafhof bly. Dit beteken egter nie dat die regerende party sal stilbly wanneer hulle meen die instansie tree verkeerd op nie. Die eerste adjunk-sekretaris-generaal van die ANC, Nomvula Mokonyane, het gesê die ANC is van mening dat die strafhof nie voldoende getransformeer is nie. Daarom gebeur dit dat sommige lande die slagoffer van mishandeling en uitbuiting word weens eensydige besluite wat sonder deursigtigheid geneem word. Dit is steeds nie bekend of Poetin die Brics-beraad in Augustus in die land gaan bywoon nie.