Met 57% vakante senior posisies by sy munisipaliteite, is dit geen wonder dat die Vrystaat sinoniem met verval geword het nie.
Maroela Media berig slegs agt uit die 23 munisipaliteite het ‘n gekwalifiseerde munisipale bestuurder wat permanent aangestel is.
Leona Kleynhans, DA-LP en Cogta-woordvoerder, het gesê hoewel die syfers skok, kom dit nie as ‘n verrassing nie.
Net 11 van die munisipaliteite het ʼn gekwalifiseerde, voltydse finansiële bestuurder, terwyl daar maar vier munispaliteite is wat ʼn gekwalifiseerde stadsbeplanner in diens het.
Hierbenewens hang daar steeds ‘n enorme skuldlas oor die munisipaliteite.
Altesaam skuld hulle R27-miljard aan krediteure, waarvan R18-miljard aan Eskom verskuldig is.
Die munisipaliteite sélf word R21-miljard geskuld deur verbruikers, wat ook die regering insluit.