Net minder as die helfte van Suid-Afrika se landdroste is al gedreig of leed aangedoen weens die werk wat hulle doen.
Netwerk 24 berig dit is volgens ‘n meningspeiling wat die Universiteit van Kaapstad se Eenheid vir Demokratiese Regering en Regte, of EDRR, oor landdroste se waarnemings oor hulle werksomstandighede gedoen het.
Zikhona Ndlebe, navorser van die EDRR, het gesê die eenheid het met sy navorsing in 2019 begin onder sowat 2 000 landdroste wat in meer as 1 800 landdroshowe werksaam is.
Volgens die verslag wat vandeesweek uitgereik is, is dit nie verbasend dat landdroste onveilig voel nie. Onder alle respondente het 44% gesê hulle is al gedreig of leed aangedoen.
Die meeste dreigemente kom in Limpopo en die Wes-Kaap voor. Ndlebe het gesê landdroste se vrese is nie ongegrond nie omdat verskeie al in huurmoorde doodgeskiet is.