Carl Niehaus word deur die ANC afgedank

Pule Mabe, woordvoerder van die ANC, het gisteraand aan Netwerk 24 bevestig dat Carl Niehaus as werknemer deur die ANC afgedank is.

Niehaus het tot 4-uur gistermiddag tyd gehad om redes te verskaf oor waarom hy nie summier afgedank moet word nie.

Die afdanking volg op Niehaus se optrede Woensdagmiddag, toe hy die media uitgenooi het om te aanskou hoe hy strafregtelike klagte van diefstal, bedrog en korrupsie teen senior amptenare van die ANC by die polisie indien.

Sy klagte hou verband met agterstallige salarisse van werknemers. Niehaus het in ‘n skrywe na sy afdanking genoem dat dit binne sy reg was om klagte teen “klaarblyklike misdadige aktiwiteite” rondom salarisbetalings aanhangig te maak.

Intussen is berig dat Niehaus sewe dae het om te appelleer teen sy afdanking.

Hy word toegelaat om sy persoonlike besittings vandag tussen 10 en 11-uur by die Luthuli-huis te gaan afhaal.

Luister na potgooie hieronder