Die Kanadese eerste minister, Mark Carney, het vir die eerste keer met die Amerikaanse president, Donald Trump, in die Withuis vergader.

Reuters berig Carney het Dinsdag met Trump reguit meegedeel dat Kanada nooit te koop is nie en geëis dat Trump ophou om na Kanada as die 51ste staat te verwys.

Carney, wat onlangs verkies is, het die gesprek as konstruktief beskryf en gesê ernstige onderhandelinge oor ’n nuwe verhouding sal volg.

Trump het die vergadering as “wonderlik” beskryf en gesê die verhouding sal sterk wees.

Hoewel Carney Trump vroeër van verraad beskuldig het, het die twee leiers mekaar tydens die ontmoeting geprys.

Trump het erken dat anneksasie nie bespreek is nie, maar gesê dit sou ’n “wonderlike huwelik” wees.

Carney het dié idee beslis van die hand gewys.

error: Inhoud is beskerm !!