Die minister van polisie, Bheki Cele, het gistermiddag gesê meer as 75-duisend verdagtes is reeds as deel van die polisie se teen-misdaad-program vir die feestyd in hegtenis geneem. Die program het reeds op 15 Oktober afgeskop. Netwerk 24 berig onder die verdagtes wat vasgetrek is, is 560 weens moord, 604 weens poging tot moord, 470 weens verkragting, 6-duisend-700 weens aanranding met die doel om ernstig te beseer en byna 5-duisend weens aanranding. Meer as 400 verdagtes is in hegtenis geneem weens inbrake by ondernemings, en 561 weens die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie. Elf-duisend onwettige immigrante is vasgetrek en is in die proses om uit die land gedeporteer te word. Cele het gesê hy is bekommerd oor die rol wat alkohol in die feestyd in misdade speel.