Twee Centlec-werknemers is by ‘n perseel in Botshabelo-perseel naby Bloemfontein vir die diefstal van elektrisiteitskabels, ‘n meter en ‘n distribusiebord in hegtenis geneem.
Volgens Centlec-woordvoerder Lele Mamatu het die Botshabelo-speurderskantoor inligting ontvang wat die twee verdagtes met die diefstal verbind. Ná ‘n ondersoek is hulle in hegtenis geneem en is by die Botshabelo-polisiestasie in aanhouding.
Die beweerde gesteelde goedere is gevind waar dit by ‘n huis in Botshabelo se N. Seksie geïnstalleer is. Die twee staan op aanklagte van diefstal van waardevolle infrastruktuur tereg, en sal na verwagting vandag voor die Botshabelo Landdroshof verskyn.
Volgens ‘n Centlec-mediaverklaring veroordeel hulle die kriminele aktiwiteite binne hul organisasie ten sterkste en sê hulle sal glad nie sulke gedrag duld nie.