Die Nasionale Departement van Gesondheid sê meer as 150 vermoedelike gevalle van cholera is sedert die begin van die jaar in Suid-Afrika aangeteken.
Altesaam 12 van die gevalle is bevestig, en een afsterwe is tussen 1 Januarie en gister aangeteken. Elf uit die twaalf bevestigde gevalle is in Limpopo aangemeld en een in Gauteng. Drie van die mense wat met Cholera gediagnoseer is, kom uit Zimbabwe, maar was sover bekend, skynbaar nie in aanraking met ander wat die siekte onder lede gehad het nie.
Die mees onlangse sterfgeval is in Musina aangeteken. ‘n Departementswoordvoerder, Foster Mohale, sê die 48-jarige is in die Pietersburg-hospitaal in Polokwane oorlede.