Die vakbondfederasie Cosatu en sy geaffilieerde vakbonde betoog vandag regoor die land. Hulle kom in opstand teen korrupsie, ongebreidelde werkloosheid, hoë rentekoerse, die energiekrisis, waterkrisisse en ongelykheid. Cosatu het gesê sosio-ekonomiese probleme versmoor die ekonomie en dompel werkers in skuld. Die vakbond het gesê nie die regering of die private sektor spreek werkers se probleme aan nie. Cosatu se sekretaris in die Wes-Kaap, Melvern de Bruyn, het gesê hulle gaan ook na die premier se kantoor opruk oor die toename in misdaad regoor die provinsie. In die Vrystaat, het sover bekend honderde lede opgeruk om te betoog in dele van die Goudveld.
