Cosatu is nou nóg een van talle organisasies wat die regering luidkeels in die bek ruk oor die ontsnapping van ‘n vermeende moordenaar en verkragter.

Die vakbond se parlementêre koördineerder, Matthew Parks, het gesê die ontsnapping uit die Mangaung-korrektiewe-sentrum in Bloemfontein, wek enorme kommer.

Rosestad 100.6FM-nuus het vroeër berig die veroordeelde Thabo Bester, of die Facebook-verkragter in volksmond, het op 3 Mei 2022 spoorloos uit die tronk verdwyn.

Die departement van korrektiewe dienste, of DKD, het destyds gesê Bester het selfmoord gepleeg deur sy tronk-sel aan die brand te steek.

Dit is egter nou bevestig dat die verbrande liggaam wat toe in die sel gevind is, dié van ‘n ander man is.

Intussen is daar in die jongste verwikkeling beeldmateriaal van die voortvlugtige op sosialemedia versprei, waar hy oënskynlik saam met ‘n vrou in Sandton in Gauteng inkopies doen.

‘n Grootskaalse soektog is deur die Suid-Afrikaanse polisiediens van stapel gestuur.

Die DKD doen skynbaar ook sy eie ondersoek na die raaiselagtige gebeure.

Lede van die publiek word gevra om op die uitkyk vir Bester te wees.

Mense word wel baie ernstig gewaarsku om hom onder géén omstandighede te konfronteer nie.

Daar word versoek dat hulle dadelik die naaste wetstoepassings-owerhede van Bester se ligging in kennis sal stel.

error: Inhoud is beskerm !!
×

Rosestad, Waar jy wil wees, trots in Afrikaans

×