Cosatu sê die doel van die vakverbond se landwye staking is om die regering en sakelui so ver te kry om uitdagings te takel waarmee werkers elke dag saamleef.
SABC-nuus berig Cosatu se parlementêre koordineerder, Matthew Parks, sê albei sektore het die afgelope jare misluk om iets aan werkloosheid en werksomstandighede te doen wat besig is om te vererger. Die vakverbond se protesoptrede is teen die hoë werkloosheidsyfer, stygende lewenskostes en wat hy noem ongebreidelde korrupsie.
Intussen het Sake-eenheid Suid-Afrika, oftewel Busa, kommer uitgespreek oor die ekonomiese impak van Cosatu se landwye staking vandag. Busa se bestuurshoof, Khulekani Mathe, sê wat hulle bekommer is dat Cosatu staatmaak op ‘n staking-sertifikaat wat glo vier jaar gelede uitgereik is.