Die DA het ‘n aanlyn versoekskrif begin waarin gevra word dat meer stemlokale maklik toeganklik moet wees vir alle Suid-Afrikaners in die buiteland. Die Verkiesingskommissie, of OVK, het verlede week die aanlyn registrasieportaal vir Suid-Afrikaners in die buiteland bekend gestel. Kelly Clarke, kommunikasiebestuurder van die DA in die buiteland, het die portaal verwelkom, maar het gesê dit beperk steeds Suid-Afrikaners in die buiteland om te registreer en te stem by ambassades, hoë kommissies en konsulate waar dit dikwels moeilik is om toegang te kry. Clarke het gesê die OVK het ‘n verpligting teenoor die sowat twee miljoen Suid-Afrikaners wat in die buiteland woon of werk om te registreer en te stem asook dat stemlokale maklik toeganklik is. Clarke het aan Netwerk 24 gesê ‘n groter aantal stemlokale moet geplaas word in stede met hoë getalle Suid-Afrikaanse burgers.