Die DA het hom na die hooggeregshof gewend in ‘n poging om die Vrystaatse premier, Mxolisi Dukwana en tien ander amptenare en entiteite te dwing om in te gryp teen die wanfunksionele Matjhabeng munisipaliteit.
Netwerk 24 berig die jarelange wanbestuur van die munisipaliteit wat Welkom en ander Goudveldse dorpe insluit, het tot gevolg dat basiese dienslewering in duie gestort het. Die DA-LP vir Matjhabeng, George Michalakis, het in ‘n eedverklaring wat gister by die hooggeregshof in Bloemfontein ingedien is, gesê dat daar ingevolge die Grondwet by die munisipaliteit ingegryp moet word.
Die DA wil ‘n bevel van die hof kry dat die provinsiale en nasionale regerings gedwing moet word om in te gryp en met ‘n herstelplan vorendag kom om die munisipaliteit te red. Matjhabeng se finansies moet ook herstel word sodat dienste aan inwoners gelewer kan word.