Die DA gaan vra dat die beweerde wangedrag teen lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, of SANDF, wat in die Demokratiese Republiek van die Kongo, of DRK, gemaak word, intern ondersoek word. AFP het Donderdag berig dat die VN se vredesmag in die DRK agt soldate van die SANDF in Beni, in die ooste van die DRK in hegtenis geneem het. Een offisier is ‘n week later geskors. Die soldate was glo betrokke by verskeie oortredings volgens VN regulasies. Die soldate was glo by kroeë en bordele betrokke terwyl ‘n offisier glo VN-personeel gedreig het toe die soldate in hegtenis geneem is. Kobus Marais, die DA-LP en woordvoerder oor verdediging, het Vrydag aan Netwerk 24 gesê die DA verwelkom die VN se ondersoek na die beweringe van seksuele uitbuiting en mishandeling. Marais het gesê die minister van verdediging, Thandi Modise, moet vir die wangedrag en gebrek aan dissipline onder SANW-lede verantwoording doen.
