Die DA het die Minister van Kommunikasie, Mondli Gungubele, versoek om volgende week se Portefeuljekomiteevergadering by te woon om die regering se planne voor te lê om die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK) se finansiële uitdagings reg te stel. Dit kom nadat die SAUK bevestig het dat dit een-komma-een-miljard rand in die afgelope boekjaar verloor het. Dit impliseer dat die uitsaaier bykomende finansiële steun sal benodig voor volgende jaar se verkiesing. Volgens die party het dit minister Gungubele in Julie gekontak oor berigte wat aandui dat die SAUK op die randjie van ‘n finansiële krisis is, maar geen reaksie ontvang nie. Die DA se Natasha Mazzone sê die uitsaaimaatskappy se finansiële situasie gaan voort om te versleg, wat lei tot ernstige onderbemanning en hulpbrontekorte.