Die DA is woedend oor die verslag wat aandui dat 649 werknemers van die Vrystaatse onderwysdepartement kriminele skuldigbevindings het. Dulandi Leech, Vrystaatse DA onderwyswoordvoerder het in ‘n mediaverklaring gesê dat die misdade moord, verkragting en dwelhandel insluit en dat dit ‘n groot saak van kommer is om te dink dat kinders daagliks in die sorg van gevaarlike misdadigers gelaat word.
Sy voeg by dat hulle die ondersoek deur die departement verwelkom en dat hulle vrae aan die departement sal voorlê om te bepaal hoe die aantygings nie opgetel is voordat die individue aangestel is nie. Die departement sal ook genader word om te verseker dat oortreders wat onregmatig aangestel is so vinnig as moontlik uit hul posisies verwyder word.