600 stukkende kilometers teerpad in die Vrystaat, sal voortaan deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap, Sanral, bestuur word.
Dit sluit die R26 tussen Ladybrand en Bethlehem, die R34, asook die R74 by Harrismith in.
Die DA-leier in die Vrystaat, doktor Roy Jankielsohn sê dit behoort die las op die departement te verlig, sodat die magdom ander paaie wat in ‘n skokkende toestand is, aandag kan kry.
Hy wil ook toesien dat nóg provinsiale paaie aan Sanral oorgedra word. Sanral het reeds in Junie vanjaar onderneem om die provinsie se nasionale paaie ten bedrae van 8-miljard rand te herstel.
Die N5, waaraan Sanral reeds werk, verbind die N1 by Winburg met die N3 by Harrismith, via Senekal, Paul Roux en Bethlehem.