Verskeie ongelukke op die land se paaie het reeds talle mense se lewens geëis. Netwerk 24 berig vier mense is Saterdagoggend dood in ‘n botsing tussen twee motorvoertuie en ‘n vragmotor op die N2 naby Fairbreeze in KwaZulu-Natal. Berigte lui een van die voertuie met twee insittendes het met ‘n voertuig met ‘n familie van vyf insittendes gebots. Een van die voertuie het voor ‘n aankomende vragmotor ingery. Tydens ‘n ander ongeluk in Centurion, het ‘n enkele motorvoertuig-ongeluk plaasgevind waarin die twee insittendes dood is, berig Emer-G-Med. Die bestuurder het glo teen ‘n hoë spoed gery en het beheer verloor. Die voertuig het omgeslaan en verskeie gerol voordat dit deur die heining van ‘n eiendom geploeg het. In nog ‘n ongeluk naby Muldersdrift is ‘n motorfietsryer ernstig beseer na ‘n botsing met ‘n ligte motorvoertuig. In nog ‘n ongeluk op die R617 in Mpophomeni in KwaZulu-Natal is ‘n een persoon in ‘n kritieke toestand gevind nadat sy motor verskeie kere gerol het.