Die dae van rolprentteaters en springmielies is waarskynlik nader aan sy einde as wat liefhebbers van rolprente op die grootskerm besef. IOL berig Ster-Kinekor gaan 263 van sy werknemers aflê as gevolg van die nadraai van die Covid-19 pandemie asook beurtkrag.
Die ligte in teaters kan dalk heeltemal uitdoof as gevolg van bywoningsyfers wat steeds daal. Een van die redes is die gewildheid van stromingsdienste soos Netflix. Die rolprentteater-maatskappy, wat in 1896 sy eerste rolprent in die land vertoon het, gaan ook nege teaters sluit. Ster-Kinekor sê alle personeel is reeds in kennis gestel van die herstruktureringsproses.