Groot opgewondenheid het Donderdag by die St Andrew’s skool in Bloemfontein geheers toe ‘n oud-leerling van die skool en ‘n Dakar-kampioen in die Motul-motorfiets-afdeling, Charan Moore, sy alma mater besoek het. Moore, wat in 2009 sy matriekjaar by die skool voltooi het, het in 2023 die Motul-klas op sy 450cc-motorfiets gewen.
Moore het aan die seuns vertel hoe uitdagend die afdeling was wat behels dat deelnemers sonder ‘n ondersteuningspan die 10 000km deur die woestyn in Saudi-Arabië aflê. Moore het aan Rosestad-nuus vertel hy het van kleintyd motorfiets gery in Ladybrand waar hy grootgeword het en dat dit altyd sy droom was om aan die Dakar-wedren deel te neem. Moore het gesê dit is ‘n groot eer om ‘n leerling van St Andrew’s te kon wees. Hy het wel nooit sy droom om die hoogste sport as motorfietsrenjaer te bereik, uit die oog verloor nie.
Hy het aan leerlinge gesê om ‘n balans in hul lewens te handhaaf deur die skoollewe te geniet maar ook ‘n droom te hê. Hy het na die tyd handtekeninge aan die seuns uitgedeel en sy Suid-Afrikaanse wedren-hemp asook ‘n valhelm aan die skool geskenk. Die 32-jarige Moore het reeds drie keer aan die Dakar-wedren deelgeneem.