André de Ruyter, Eskom se voormalige hoof, doen vandag verslag aan die parlement se staande komitee vir openbare rekeninge.
Die verrigtinge het om nege uur vanoggend begin en De Ruyter is reeds gepeper met vrae oor sy uitlating dat hooggeplaasdes in die ANC hulle aan Eskom-korrupsie skuldig maak, of gemaak het.
Hy weier steeds om die vermeende ANC-korruptes by die naam te noem, terwyl hy wel bereid is om met wetstoepassers hieroor saam te werk.
De Ruyter het gesê vandag se verrigtinge skep nié die regte geleentheid om die name bekend te maak nie, aangesien dit tot dwarsboming van die gereg sou kon lei.
De Ruyter het dit ook onomwonde gestel dat beurtkrag volgens hom wél ‘n uitvloeisel van korrupsie binne Eskom is.
Hier verskil hy lynreg met die minister van Elektrisiteit wat vroeër aangedui het dat vermeende korrupsie binne die kragverskaffer nié met beurtkrag verband hou nie.