Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie is ‘n groot struikelblok vir verandering in die energiesektor, het André de Ruyter, voormalige uitvoerende hoof van Eskom gesê. De Ruyter het tydens ‘n potgooi vir Business Day gesê Mantashe minag die logika om die maksimum kragopwekkingskapasiteit teen die goedkoopste en vinnigste manier moontlik gebou te kry. Hy steur hom ook nie aan koolstof-invoerheffings wat Europa beplan en Amerika oorweeg nie. Dit is een van die redes waarom De Ruyter meen skoner kragbronne moet omarm word om Suid-Afrikaners se mededingendheid te verbeter. Hy het gesê die land word tans teen ‘n slakkepas na skoner kragbronne gelei. Eskom sal in die toekoms agtergelaat word met ou kragstasies waarvan hul leeftyd ten duurste verleng word met arm kliënte wat nie vir elektrisiteit kan betaal nie.
