Die polisie het dele van ’n voertuig by die Hennopsrivier in Centurion gevind, maar kan nog nie bevestig of dit deel is van die VW Polo waarin die drie oorlede polisiebeamptes gery het nie.
SABC News berig die liggame van die Vrystaatse beamptes is Dinsdag uit die rivier gehaal nadat hulle vir meer as vyf dae vermis geraak het.
Hulle het van Bloemfontein na hul ontplooiingsgebiede in Limpopo se Waterberg- en Capricorn-distrikte gereis as deel van operasie Vala Umgodi toe hulle verdwyn het.
Die polisie sê hulle ondersoek tans of die onderdele van dié voertuig dalk aan die voertuig behoort waarin dié drie polisiebeamptes gery het.
Intussen doen die minister van polisie, Senzo Mchunu, ‘n beroep op die publiek om nie te spekuleer oor wat tot die dood van drie polisiekonstabels kon gelei het nie.