Om te verseker dat ouers gehoor aan hofbevele gee wat hulle beveel om kinderonderhoud te betaal, het die Departement van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling saam met die Stigting vir Sosiale Geregtigheid, met streng maatreëls vorendag gekom wat ouers sal dwing om hul kinders te ondersteun.
IOL berig die twee organisasies, saam met die Verbruikersprofielburo, het ‘n memorandum van verstandhouding onderteken wat daarop gemik is om ouers wat in gebreke bly met kinderonderhoud, op die swartlys te plaas.
Alhoewel die inisiatief ‘n verligting is vir ouers wat met kinderonderhoud gesukkel het, sal dit tyd neem voordat dit ten volle in werking is aangesien die regering eers ‘n ondersteunende stelsel vir die proses moet vestig. As deel van die projek beplan die departement van justisie ook ‘n stelsel wat die oordrag van inligting oor individue wat agter is met kinderonderhoudbetalings moontlik sal maak.
Hul data sal dan na ‘n aangewese kredietburo gestuur word, wat dit dan met alle ander kredietburo’s en kredietverskaffers sal deel.