‘n Deeglike ondersoek sal na verwagting begin word om die omstandighede te ondersoek rakende die geboorte van tweelingseuns wat 14 dae uitmekaar gebore is – een in Bloemfontein.

Netwerk24 berig dit blyk uit ‘n verklaring wat die Noord-Kaapse departement van gesondheid Dinsdag uitgereik het.

Luidens die verklaring is die ma Maandag ontslaan en het intussen teruggekeer Kuruman toe. Dit is onbekend of die eersgebore baba saam haar teruggekeer het.

Daar is vroeër berig oor die ma wat op 27 Maart in die Kuruman-hospitaal die lewe geskenk het aan ‘n seun, waarna sy 14 dae later aan ‘n tweede seun geboorte geskenk het, die keer in die Universitas Akademiese Hospitaal in Bloemfontein.

Hy is intussen oorlede.

Die Vrystaatse sowel as die Noord-Kaapse departemente van gesondheid trek egter die sluier oor die omstrede gebeure wat gelei het tot die vertraagde ontdekking van die tweede baba.

Netwerk24 het aan albei departemente meer as 10 vrae elk gerig, waarvan nie een beantwoord is nie. Van die vrae sluit in of die ma daarvan bewus was dat sy ‘ n tweeling verwag het, en is die nodige skanderings en protokol gevolg om te verseker dat die ma nie nog ‘n baba dra nie?

Albei departemente het aangedui dat hulle vanweë hul verbintenis tot pasiëntvertroulikheid en -waardigheid nie die vrae sal beantwoord nie.

error: Inhoud is beskerm !!