Die polisie in die Vrystaat het ‘n derde verdagte in verband met die moord op twee polisiebeamptes – vroeër vandeesmaand in Phuthaditjhaba – in hegtenis geneem.
Konstabels Sipho Mohapi en Gedione Motloung is tydens ‘n huisroof vermoor, toe hulle gaan ondersoek instel.
Die Valke sê in ‘n verklaring die verdagte sal Maandag in die Phuthaditjhaba-landdroshof verskyn. Die Valke sê verder hulle verwag om nog mense rakende dié saak in hegtenis te neem, en doen ‘n beroep op enigiemand met inligting om die polisie te kontak.
Intussen is Mohapi se begrafnis Vrydag in die Oos-Vrystaat gehou, en Motloung is ‘n dag vroeër begrawe.