Die 16-jarige Deveney Nel is vermoedelik elders op die gronde van Hoërskool Overberg met ‘n skerp voorwerp gesteek, voordat haar bebloede liggaam na ‘n stoorkamer gesleep is.
Rapport berig by monde van ‘n bron ondersoek die polisie glo die moontlikheid dat die graad 10-leerling eers seksueel aangerand, en toe vermoor is.
Sy is Woensdag as vermis aangemeld, toe sy na afloop van ‘n skolesportbyeenkoms nêrens te vinde was nie. Haar liggaam, met veelvuldige steekwonde, is Woensdagaand in ‘n stoorkamer langs die skoolsaal gekry.
Niemand is tot dusver in verband met die moord in hegtenis geneem nie. Die Wes-Kaapse provinsiale polisiediens ondersoek die saak.