Die OVK het bevestig dat die diamantsmous, Louis Liebenberg, se naam as onafhanklike kandidaat op die finale kandidatelys vir vanjaar se verkiesing sal verskyn. Liebenberg se naam was nie op die OVK se oorspronklike lys van kandidate waarteen partye en lede van die publiek voor 27 Maart kon beswaar maak nie.
Liebenberg was nie gister self by die geleentheid waar partye en onafhanklike kandidate in Midrand die OVK se gedragskode vir die verkiesing onderteken het nie. Die leier van die VF Plus, dr Pieter Groenwald, het in sy toespraak na die OVK gekap oor sy adminstratiewe fout, maar nie Liebenberg by die naam genoem nie. Liebenberg se naam sal glo op die tweede stembrief vir streek setels wees maar met genoeg stemme kan hy ‘n parlementslid word. Liebenberg wil glo hê gewone mense moet meer baat by die land se minerale en nie net die staat en groot maatskappye nie.