Dr Graham Dickason het vandag aanlyn uit Suid-Afrika op die tweede dag van sy vrou se moordverhoor in Nieu Seeland getuig hy het na die dood van sy kinders op drie stelle kabelbinders afgekom. Dit was aanmekaar vasgemaak in ‘n klerekas in sy ma se huis waar sy vrou, Lauren, die gesin se tasse vir hul emigrasie na Nieu-Seeland gepak het, berig Stuff.co.nz. Lauren staan in die hooggeregshof in Christchurch tereg op drie aanklagte van moord op haar drie dogters, die ses-jarige Liané en die twee-jarige tweeling, Maya en Karla in September 2021. Sy erken sy het hulle doodgemaak maar voer aan sy was nie toerekeningsvatbaar nie. Die staat het Maandag aangevoer sy het die aand van die moord eers kabelbinders uit die motorhuis gekry om die kinders te verwurg, maar daarna besluit om die drie kinders met hul kombersies te versmoor. Dickason het vandag getuig hy was bekommerd oor die kabelbinders wat aanmekaar vasgemaak was, maar het aanvanklik niemand daarvan vertel nie. Hy het sy vrou tydens ‘n besoek in Januarie daaroor uitgevra en sy het bevestig sy het dit aan mekaar vasgemaak. Dickason het getuig sy vrou was verskeie kere angstig voor hul vertrek na Nieu-Seeland.