Lauren Dickason het drie maande nadat sy haar drie dogtertjies versmoor het, aan ‘n forensiese psigiater, Justin Barry-Walsh, gesê sy verlang na hulle en wil nie verder leef nie. Die NZ Herald berig Dickason het ook glo aan Barry-Walsh gesê sy wil na Suid-Afrika terugkeer sodat sy met haar kinders, wat hier begrawe is, herenig kan word. Barry-Walsh wat vir die verdediging getuig, het gesê Dickason sou alles wou gee om te verander wat gebeur het, maar dat sy steeds gevoel het dat die dogtertjies “beter af” is waar hulle nou is. Barry-Walsh het ander psigiaters se vorige getuienis weerlê dat sy haar kinders uit woede en frustrasie vermoor het. Hy het gesê haar dade was as gevolg van ernstige depressie. Dickason het erken sy het haar kinders, die sesjarige Liané en die twee-jarige tweeling Karla en Maya doodgemaak, maar pleit onskuldig op ‘n klag van moord.
