Die Bybel in Afrikaans vier die naweek sy 90ste verjaarsdag by die Voortrekkermonument en die Vrouemonument in Bloemfontein. Die Bybel vir Afrikaans is die eerste keer in 1933 in Afrikaans bekendgestel as ‘n volwaardige en volledige Bybel. Maroela Media berig die verhaal van die Bybel in Afrikaans het in 1872 begin toe Arnoldus Pannevis ‘n brief geskryf het en aangevoer het dat die Bybel in Nederlands nie meer vir die Afrikaner verstaanbaar is nie. Op 29 Mei 1933 is die eerste besending Bybels deur die Bybelgenootskap ontvang en in Augustus deur kerke in gebruik geneem. Die gebeurtenis word Sondag by die Voortrekkermonument gevier asook ‘n dankdiens in Bloemfontein by die Vrouemonument. Daar sal uitstallings wees van Bybels wat tydens die Anglo-Boereoorlog begrawe is asook kunswerke en stalletjies.
