Die Amerikaanse ambassade in Suid-Afrika het onlangs ‘n uiters dringende beroep gedoen op sy landsburgers wat hier woon, om hulself voor te berei vir wanneer Suid-Afrika se kragnetwerk ineen sou stort.
Die Suid-Afrikaanse presidensie het gesê hy kan nie verstaan waarom die Amerikaanse ambassade sy burgers hier gewaarsku het om noodvoorraad op te bou nie.
Vincent Magwenya, woordvoerder vir die presidensie, het gesê dit is nie die eerste keer dat daar ʼn waarskuwing van die Amerikaanse ambassade kom nie, en dat die presidensie nooit geraadpleeg word voordat sulke waarskuwings uitgereik word nie.
Volgens hom is dit dus moeilik om dan daarop kommentaar te lewer.
Benewens die opgaar van voedsel en water, het die ambassade ook raad gegee oor kommunikasieplanne, wat insluit dat mense hul familielede se selfoonnommers moet memoriseer.