Die ANC moet binne vyf dae al sy kader-ontplooiings-rekords aan die DA oorhandig. Die regerende party word daartoe gedwing om dit te doen ingevolge ‘n uitspraak van die konstitusionele hof wat vandag ten gunste van die DA beslis het.
Die hof het die ANC se appélaansoek daarteen van die hand gewys. Netwerk 24 berig ingevolge die uitspraak moet die ANC nou alle notules van vergaderings, CV’s, eposse, whatsapp-besprekings en ander relevante dokumente met betrekking tot sy kaderontplooiings-kommissie aan die DA oorhandig. Pres Cyril Ramaphosa is ‘n voorsitter van die kommissie. Die DA-LP, Leon Schriber, het kort na die uitspraak gesê die ANC moet nou al sy geheime blootlê wat die party so desperaat probeer wegsteek het.