Ace Magashule, voormalige Vrystaatse premier, en voormalige sekretaris-generaal van die ANC, is deur die regerende party uit sy nes geskop. Mahlengi Bhengu-Motsiri, ANC-woordvoerder, het laat vanmiddag bevestig Magashule se skorsing is amptelik. Die ANC het op 1 Junie aangekondig dat Magashule aan wangedrag skuldig bevind is, omdat hy na bewering versuim het om president Cyril Ramaphosa en die ANC om verskoning te vra, nadat hy Ramaphosa in 2021 “eensydig geskors het”. Magashule is hierna deur die nasionale tugkomitee sewe dae gegun om redes te verskaf waarom hy nié uit die ANC geskors moet word nie. Geen vertoë is teen die sperdatum ontvang nie.