Die konstitusionele hof in Johannesburg se beslissing gistermiddag, dat die veroordeelde moordenaar, Janusz Walus, binne tien dae op parool vrygelaat moet word, het gemengde reaksie en selfs dreigemente ontlok.
Die vermoorde Chris Hani se weduwee, Limpho Hani, het dit as duiwels bestempel.
Die EFF het gesê die besluit om Walus vry te laat is onsensitief en sal onstabiliteit in die land tot gevolg hê.
Die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party het gesê hy vind die uitspraak walglik.
Walus, ‘n Poolse immigrant, dien lewenslange tronkstraf uit vir die moord op die SAKP-leier en Umkonto we Sizwe-stafhoof, Chris Hani.
Hani is op 10 April 1993 voor sy huis in Boksburg doodgeskiet.
Sinawo Thambo, woordvoerder van die EFF, het gesê die regslui onder leiding van hoofregter Raymond Zondo, het met dié beslissing op die graf van Chris Hani gespoeg.
Volgens Thambo sal die konstitusionele hof verantwoordelik wees vir die ernstige gevolge wat uit Walus se vrylating op parool sal spruit.